2011-04-23: Polisie kry pak slae in die hof

http://www.rapport.co.za

2011-04-23: Polisie kry pak slae in die hof

Postby GOSA » Tue, 2011-04-26 15:02

http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nu ... f-20110423


Polisie kry pak slae in die hof
2011-04-23 23:50
Herman Scholtz



Uiteindelik is daar 'n lig aan die einde van die tonnel vir
vuurwapen-eienaars wat selfs tot vyf jaar wag vir
bevoegdheidsertifikate.
Dié aansoeke móét voortaan binne vier maande afgehandel word, het
die hooggeregshof in Pretoria gelas.


Dit is die eerste keer dat 'n tydraamerk vasgestel is vir die
verwerking van aansoeke.


Altesame 31 veiligheidsmaatskappye en 1447 veiligheidswagte het
die polisie hof toe gevat oor dié chaotiese verwerking van
aansoeke.


Die bedryf het aangevoer die polisie en die sentrale
vuurwapenregister-eenheid maak inbreuk op die grondwetlike regte
van veiligheidswagte, én gewone landsburgers, om vuurwapens vir
beskerming te besit.


Die polisie het toegegee dat daar algehele wanorde was met die
aansoeke. Hulle het ook erken dat die eenheid in die verlede
gebuk gegaan het onder wanadministrasie en selfs korrupsie.


Maar die minister, nasionale kommissaris en sekretaris van die
polisie het die aansoek teengestaan omdat hulle glo reeds 'n
omkeerstrategie beskikbaar het.


Dit sluit in 'n vermeerdering van personeel (van 60 tot 400) om
die agterstand sedert 2006 uit te wis, asook die instelling van 'n
SMS-stelsel.


Daar is glo boonop nou 157 mense (in plaas van 40) wat 24 uur per
dag vingerafdrukke aan die hand van misdaadverslae nagaan en agt
meer drukkers om sertifikate te druk.


Die bestuur van die eenheid is ook gedeeltelik vervang.


Die wiele is dus aan die rol en die hof moenie inmeng met dié
plan om 1miljoen agterstallige aansoeke teen Julie vanjaar te
verwerk nie, het die respondente gevra.


Die applikante het weer aangevoer dat die beweerde
omkeerstrategie heeltemal onvoldoende is om die agterstand in te
haal.


Hulle was veral omgekrap dat die polisie nie 'n formele plan van
aksie voorgelê het nie en hulle twyfel of dít ooit bestaan.


Adjunk-regterpresident Willem van der Merwe het dus ingegryp in
die proses deur die algemene viermaandetydperk vas te stel.


Van der Merwe het nóg vuur onder die beleërde eenheid gemaak deur
te sê die polisie voldoen nie aan die vereistes van die Wet op
Vuurwapenbeheer nie - en ook nie aan die vereistes van regverdige
en redelike administrasie nie.


Die veiligheidswagte wat die aansoek ingedien het, moet binne die
volgende 30 dae 'n uitslag vir hul aansoeke kry.


Die polisie moet ook die koste van die dringende aansoek betaal.



- Rapport
What have YOU done for YOUR rights today?
GOSA
Site Admin
 
Posts: 1605
Joined: Sun, 2006-01-29 15:42
Location: South Africa

Return to Rapport

Who is online

Users browsing this forum: No registered users and 1 guest

cron